| Chapter 50 |
1 |
'n Psalm van Asaf. Die God van die gode, die HERE, spreek en roep die aarde, van die opgang van die son af tot sy ondergang toe. --
|
2 |
Uit Sion, die volkomenheid van skoonheid, verskyn God in ligglans. --
|
3 |
Onse God kom en kan nie swyg nie. Vuur verteer voor sy aangesig, en rondom Hom storm dit geweldig. --
|
4 |
Hy roep na die hemel daarbo, en na die aarde, om sy volk te oordeel: --
|
5 |
Versamel my gunsgenote vir My, hulle wat my verbond by die offer sluit! --
|
6 |
En -- die hemele verkondig sy geregtigheid, want God staan gereed om te oordeel! Sela. --
|
7 |
Hoor, my volk, dat Ek kan spreek; Israel, dat Ek jou dit kan inskerp: Ek is God, jou God! --
|
8 |
Oor jou offers bestraf Ek jou nie, en jou brandoffers is altyddeur voor My. --
|
9 |
Ek hoef uit jou huis geen stier te neem of bokke uit jou krale nie; --
|
10 |
want al die wilde diere van die bos is myne, die vee op berge by duisende. --
|
11 |
Ek ken al die voëls van die berge, en wat roer op die veld, is van My. --
|
12 |
As Ek honger het, sal Ek jou dit nie sê nie; want die wêreld is myne en sy volheid. --
|
13 |
Sou Ek vleis van stiere eet of bloed van bokke drink? --
|
14 |
Offer dank aan God, en betaal jou geloftes aan die Allerhoogste; --
|
15 |
en roep My aan in die dag van benoudheid: Ek sal jou uithelp, en jy moet My eer. --
|
16 |
Maar aan die goddelose sê God: Wat vertel jy nog my insettinge en neem jy my verbond in jou mond -- --
|
17 |
terwyl jy die tug haat en my woorde agter jou werp? --
|
18 |
As jy 'n dief sien, dan geval dit jou by hom, en jou deel is met die egbrekers. --
|
19 |
Jou mond laat jy los in boosheid, en jou tong vleg bedrog. --
|
20 |
Jy sit en praat teen jou broer, die seun van jou moeder beskimp jy. --
|
21 |
Hierdie dinge het jy gedoen, en sou Ek swyg? Jy dink Ek is net soos jy! Ek gaan jou straf en jou dit ordelik voor oë stel. --
|
22 |
Verstaan dit tog, o Godvergeters, sodat Ek nie verskeur sonder dat iemand red nie. --
|
23 |
Die een wat dank offer, eer My; en die een wat op sy weg ag gee, hom sal Ek die heil van God laat geniet. --
|