| Chapter 37 |
1 |
Ja, hiervoor beef my hart en spring op uit sy plek. --
|
2 |
Luister, luister na die gedruis van sy stem en die dreuning wat uit sy mond uitgaan. --
|
3 |
Onder die ganse hemel laat Hy dit los en sy lig oor die eindes van die aarde. --
|
4 |
Daarna brul sy stem, Hy donder met sy stem vol majesteit en hou die bliksems nie terug as sy stem gehoor word nie. --
|
5 |
God donder wonderbaar met sy stem; Hy doen groot dinge wat vir ons onbegryplik is. --
|
6 |
Want Hy gebied die sneeu: Val op die aarde! Ook die stortreën, ja, sy geweldige stortreëns. --
|
7 |
Hy verseël die hand van elke mens in die winter, sodat tot kennis kan kom al die mense wat Hy gemaak het. --
|
8 |
Dan gaan die wilde diere in skuilhoeke en bly in hulle lêplekke. --
|
9 |
Uit sy kamer kom die stormwind, en deur die wolkverstrooiers koue. --
|
10 |
Deur die asem van God word ys gegee, en die wye waters lê vas in die engte. --
|
11 |
Ja, met volheid van water belas Hy die wolke, en Hy strooi ver en wyd sy ligtende wolk; --
|
12 |
en dit skiet oral rond volgens sy bestel, sodat hulle alles doen wat Hy hulle beveel oor die wye wêreldrond: --
|
13 |
of tot 'n tugroede, of tot nut van sy aarde, of tot weldadigheid laat Hy dit sy doel vind. --
|
14 |
Luister hierna, o Job! Staan stil en gee ag op die wonders van God. --
|
15 |
Begryp u hoe God hulle bevel gee en die lig van sy wolk laat flikker? --
|
16 |
Begryp u iets van die gesweef van die wolke, van die wonders van die Volmaakte in kennis? --
|
17 |
U, wie se klere warm word as die aarde stil is vanweë die suidewind -- --
|
18 |
kan u saam met Hom die hemel uitbrei wat vas is soos 'n gegote spieël? --
|
19 |
Onderrig ons wat ons aan Hom moet sê: ons kan niks voorbring vanweë die duisternis nie. --
|
20 |
Moet dit Hom vertel word dat ek wil spreek? Of het iemand ooit gesê dat hy vernietig wil word? --
|
21 |
En nou, 'n mens kan die lig nie aansien wat helder is in die hemel as die wind verbygegaan en dit skoongemaak het nie. --
|
22 |
Uit die Noorde kom goud te voorskyn, maar oor God is daar ontsagwekkende majesteit. --
|
23 |
Die Almagtige -- ons vind Hom nie; Hy is groot van krag, maar die reg en die volheid van geregtigheid krenk Hy nie. --
|
24 |
Daarom vrees die mense Hom; almal wat eiewys is, sien Hy nie aan nie. --
|